Ons Verlede

In 1929 het die Demonstrasieskool van die Potchefstroomse Normaalkollege tot stand gekom in die geboue net noord van die Totiushuis.
Hier moes die studente kindersielkunde en onderrigmetodes op ‘n hoë vlak toepas en op die proef stel.
In 1935 word die skool ‘n gewone skool onder die jurisdiksie van die plaaslike skoolraad, maar smelt later saam met Laerskool President Pretorius.
In 1937 word ‘n nuwe skool, die Mooirivierskool, weer in die geboue van die ou Voorbereidende Skool geopen met mnr. John Davey as hoof.
Gedurende 1948 betrek die Mooirivierskool die ou skoolgeboue van Hoërskool Gimnasium.
Die skool het oor die jare vinnig gegroei en is vandag ‘n moderne skool met uitstekende sportfasiliteite en opvoedkundige hulpmiddels.
In 1992 het Laerskool Mooirivier ‘n staatsondersteunde skool (Model C-skool) geword, maar as gevolg van ‘n nuwe onderwysbedeling, het die skool weer in 1997 ‘n openbare skool (staatskool) geword.
Waar kom die bynaam”Tokkies”, vir die Laerskool Mooirivier se leerders, vandaan?
Daar is verskeie menings oor waar die naam vandaan kom. Een wat dalk die meeste gewig dra is die volgende:
Die eerste Teologiese Skoolgebou en manskoshuis van die Gereformeerde Kerk was net ten weste van die huidige Laerskool Mooirivierskoolterrein. Die geboue bestaan nog steeds en behoort trouens aand ei Gereformeerde kerk.
Oorlewering wil dit hê dat ‘n groepie studente van England saam met die teologiese studente in die koshuis per geleentheid oornag het. Die Engelse studente was baie beïndruk en verstom met die Afrikaanse teologiese studente wat so spraaksaam was en het genoem dat hulle “talk a lot”.
In die Afrikaanse volksmond is die “talk a lot” verdraai na tokkelok. Die naam word vandag nog gebruik om te verwys na studente wat hulle bekwaam vir predikante.
Omrede Laerskool Mooirivier se ontstaansgeskiedenis nou verwikkel is met die Voorbereidende Skool van die teologiese Skool, is daar spoedig verwys na die jong en klein Tokkelokke as Tokkies. By die Voorbereidende Skool was daar soms hardebaarde saam met kleintjies in die klas. Die ouer Tokkies was dan voornemende teologiese studente wat eers hulself akademies beter moes bekwaam voordat hulle toelating tot die Teologiese skool gekry her.
Toe die Laerskool Mooirivier in 1937 as ‘n staatskool en onafhanklik van die Gereformeerde Kerk begin het, was die bynaam Tokkies alreeds gevestig. Die Tokkies dra die naam waardig, want net soos die destydse teologie studente, “(they) talk a lot”.

