Skooldrag
Ons is gesteld daarop dat ons leerlinge in netjiese skooldrag geklee sal wees, maar ons het ook begrip vir gevalle waar dit nie moontlik is nie.
Alle kledingstukke moet gemerk word. Die leerling se naam en van moet ook aan die binnekant van elke skoen met ‘n permanente merkpen geskryf word.Die skool se klerebank is Dinsdae en Donderdae vanaf 07:15 tot 07:45 oop. Die klerebank se ingang is by die agterste deur aan die suidekant van die saal (by Juf. Nelleke se klas). Klere kos nou R30 per item. Baie dankie aan Mari Strydom wat die verlore klere wat nie opgeëis word nie, was en netjies maak vir die klerebank.
Leerders mag die volgende klere dra:
Seuns en dogters
- Groen “Tokkies” kort broek met groen “Tokkies” kortmou hempie. (Speelpakkie)
- Oorwegend wit tekkies met wit sokkies (NIE GRYS), wit “Tokkies”sokkies, mag hierby gedra word of kaalvoet. LET WEL: GEEN GEKLEURDE VETERS MAG IN TEKKIES GEDRA WORD NIE.
Hierdie klere mag ná skool, in die middae, aangehou word tydens sportoefening. Hopelik sal daar nou minder klere wegraak as die kinders nie nodig het om ander klere aan te trek vir oefening nie. (dit beteken sommer minder wasgoed en water en die Tokkies bespaar terselfdertyd krag –TOKKIES WORD GROENER). Hierdie is ook die wedstryddrag vir die meeste sportsoorte.
BELANGRIK: Indien daar in die groen “Tokkies” klere geoefen word moet die groen hempie en broekie bymekaar aangetrek word. Dit mag nie gemeng word met ander gewone broekies of hempies saam met “Tokkies” broekies of hempies nie.
Alle kledingstukke moet gemerk word. Die leerling se naam en van moet ook aan die binnekant van elke skoen met ʼn permanente merkpen geskryf word.
KOM ONS BLY TROTS OP ONS DRAG
LET WEL: Indien leerders nie die voorgeskrewe tekkies besit nie moet hy/sy kaalvoet (in die somer) skool toe kom.
KOUE DAE : Op koue dae mag die volgende saam met die skooldrag gedra word.
- Groen skoolsweetpak. Dit mag gedra word met tekkies soos voorgeskryf.
- Groen Mooirivier trui.
- Groen oortrektrui (pull over)
- ʼn Langmou groen “Tokkies” hemp is ook beskikbaar om in die winter saam met die skoolsweetpak te dra.
- Skoolserpe mag in die winter gedra word.
Reëlings i.v.m. ander drag:
- Geen musse (“beanies”) mag op skoolterrein gedra word nie.
- Skoolpette met skoolwapen mag tydens sportgeleenthede saam met skoolsportdrag gedra word. Beskikbaar by leweransiers.
- Haarrekkies: Groen en geel haarrekkies, haarlinte en haarbande mag by skool gedra word. Geen ander blomme en haarversierings mag gedra word nie.
- Lang groen kouse met twee geel strepe word deur krieket- en hokkiespelers gedra by groen “Tokkies” klere tydens wedstryde.
- ʼn Skoolbaadjie met wit hemp en das word vir spesiale geleenthede gedra en deur betrokke onderwysers aan leerlinge uitgereik.
SKOENE EN TEKKIES
- Tekkies moet oorwegend wit wees, indien daar addisionele kleure in die tekkie is, mag dit nie oorheersend wees nie. As ʼn leerling nie die voorgeskrewe tekkies het nie, moet hy/sy kaalvoet loop.
- Kaalvoet bly ook ʼn keuse.
- Binnesole vir voet en hak probleme pas in enige wit tekkie.
- Seilskoene en plastiese skoene wat die voorkoms van ʼn tekkie het word nie toegelaat nie, opsies vir skoene is reeds wyd genoeg sodat geen vergunnings hier gemaak hoef te word nie.
Dra van provinsiale klere skool toe.
Die vergunning word gemaak dat leerders wat in die afgelope seisoen hulle provinsiale kleure verwerf het dit op die laaste dag van die kwartaal mag dra. Indien jy nie die korrekte drag het nie moet jy skooldrag soos hierbo genoem aantrek.
BELANGRIK
Dit is belangrik dat ons hou by die reëls om eenvormigheid en netheid by die skool te kry. Skoolklere moet ook te alle tye die skool verteenwoordig en moet daarom nie na skool met ander drag gemeng word nie. ELKE TOKKIE MOET KAN TROTS WEES OP SY/HAAR SKOOL EN SKOOLDRAG.
VERVAARDIGING VAN NUWE KLERE
Fabrieke doen hul bes om in die vraag na nuwe klere te voorsien en ons vra ouers om geduldig te wees met die vervaardigingsproses sodat fabrieke nie onnodig jaag en gehalte van klere ingeboet moet word nie.
Kontak asb. die leweransiers self om uit te vind oor die beskikbaarheid van klere. Al die leweransiers hou ook nie al die produkte aan nie.
- AK sport & leisure (018-2977860)
Dr. James Moroka Ave 49 - Glotron (018-2976055)
Spruitstraat 60